lente in die Alpe

bokant die kapok op die hoogste bergtop
is die lug so asemdun dat die digter inslaap
& droom van die 1ste druppels smeltwater
wat gaatjies sal val in die dun ys oor sy oë
& sneeuklokkies in sy lagplooitjies
uit sal spruit

as die ontwaakte waters bymekaarkom
& oor die groot krans van sy voorkop stort
word dit jong raaswater – dreunwater
deur diep slote op sy wange
deur diep klowe om sy mondhoeke
donder dit oor sy kake

soos die wit wilde perde van die Camarque
spat die water in lenteblomme onder hulle
besete hoewe uit blou veronica’s in ravyne
edelweiss teen die hange & kranse
Alpeblomme soos vars verse wat
helder uitmond

as die perde & vullens met golwende
maanhare tussen golwende heuwels in sy nek
deurkom vertraag hulle pas totdat selfs die
hitsigste hingste verdwaas uitgeraas in die
Rhône Δ van sy skouers stil gaan staan & versvry
in die omgewing van sy hart begin wei

(vir T.T. Cloete)